So… as ‘n mamma van ‘n seuntjie het ek nie altyd die term “blue eyed boy” verstaan nie, maar sjoe, dit is darem ‘n ware stelling.
Daar is darem niks lekkerder vir my as ons seuntjie my vroeg oggend terwyl my hare nog deurmekaar is en ek pajamas aan het, wat glad nie vlyend is of enige iets in plek hou nie, vir my sê…sjoe Mamma jy is darem nog steeds mooi.
Of, Mamma kyk my ogies blink vir jou want ek is lief vir jou, of vir my n grassie, blaartjie of gogga bring en sê dit is spesiaal vir my. Dit laat darem ‘n mens se hart smelt om te weet daar is ‘n seuntjie lyf wat dink sy mamma is beeldskoon en waardig, al twyfel ons soms in onsself.
Seuntjies wil spiere afshow en muscles fleks en kan nie wag om sy mamma se “superhero” te wees deur ‘n waterbottel of 2l melk te dra nie en dan natuurlik moet die komplimente vloei van hoe sterk en mooi hierdie mannetjie sy mamma help dra.
Of die verrassing as ek in sy kamer instap en daar lê op een hopie skroewe, ander hopie wiele en nog ‘n hopie met vliegtuigvlerke… alles uitmekaar gehaal en inspekteer… hoekommmmmm?????
En in die aand wanneer alles rustig raak, is dit so ‘n voorreg om langs hierdie seuntjie lyf te lê en drukkies te kry en te hoor “Mamma, ek is lief vir jou.”

Dit is vir my so ‘n voorreg om ‘n seuntjie te hê wat my kan help, wat planne kan maak , wat anders dink, ander goed raak sien en wat ruik na stof en sand.
Want eendag is eendag wat hy nie meer vir my gaan sê vroeg oggend as alles deurmekaar is…”Sjoe Mamma, maar jy is steeds soooo mooi.”
So, wat leer ek hieruit…
Ons moet ons seuns se hulp en “muscles” waardeer:
Eendag help hulle ons nog om swaar kruideniers uit die kar uit te dra met ‘n glimlag en hoef ons hulle nie te soebat en oortuig nie.
Ons moet vir hulle sê ons waardeer hulle
Erken dat hulle ons baie help, sodoende help hulle ons net dalk nog as hulle tieners is en baie “cool” moet optree.
Geniet die vuil stof lyfies
Hulle “explore”. Eendag ontdek hy dalk net iets wat die wêreld verander.
Rig hulle op met self vertroue
Sodat hulle in die wêreld eendag presies weet wie en wat hulle is en waar hulle inpas, en dit nie êrens anders gaan soek nie.
Leer jou seun oor respek
Hoe hulle dogtertjies of vrouens moet behandel en hoe hulle met jou as mamma praat en hanteer.
Seuntjies se koppe werk anders
Hulle dink anders, hulle sien dinge anders en dit is goed, dit is mooi en dit is belangrik. Dit is nodig. Dit geld vir meeste manne en ek moet dit “embrace”. Ons is gemaak om by mekaar te leer en mekaar nodig te hê. Ons is nie dieselfde gemaak nie en daarom kan ek nie verwag dat ons dieselfde dink nie.
Ek as mamma werk aan ‘n man vir die toekoms wat moontlik gaan trou en self kinders hê, as ons almal saam werk om hulle op te bou het ons eendag dalk ‘n gesonder generasie daar buite.

Deel bietjie julle unieke seuntjie ervaringe?
